Boek Piet Paaltjens                                   Piet Paaltjens  Dichter-dominee  1835 - 1894                             


Beginpagina

Jeugdjaren in Leeuwarden

Studententijd in Leiden

Predikant in Foudgum

Predikant in Den Helder

Predikant in Schiedam

Over Piet Paaltjens

Culinaire citaten

Gedichten over eten en drinken

Culinaire bloemlezing



Contact  

Die huisvrou

Die huisvrou loop deur die tuin
met haar skêr: die lemme blits en knip.
Dan dra sy die drag damaskusrose
na die spoelkombuis, waar sy die broos
rafelpunte van die stengels kneus,
die vaatbundels tretter en versteur
en alles in ‘n erdebeker skik.
Tussen spykers ingedruk, geruk
uit hul vertroude lig en landskap,
wortelloos, die vloei van hulle sap
belemmer, kwyn hulle weg in ballingskap.

Sy neem die heel blomkoolkop.
Haar mes gly deur die parenchiem
van stronk, blom-aggregaat en steel.
Sy dissekteer die weefsel, verdeel
die wit, verwikkelde infloressensie
in dwergboompies waarmee sy speel
‘n oomblik lank, half ingedagte,
voor sy die lewe in hulle blus
met water van honderd grade Celsius.

Sy neem die vis en kap sy stert af,
smak dit op die droogplank neer:
‘n fyngeribde, silwer waaiertjie.
Dan kap haar kapmes die kop af
en krap dit opsy: kru afvalstof.
Die dooie oog is soos ‘n muntstuk dof.
Sy blik bly strak op haar gerig
vanuit die koue bladaluminiumgesig.

Sy neem die hartjie van die lammertjie
en kloof dit oop: linker- en regter-
hartkamers lê voor haar oog ontbloot,
weerloos en onteer. Haar lem stoot
teen tussenwande waar die slagaarbloed
nog lig en dun soos rooi ink klewe.
Met ‘n snel haal sny sy deur die verwese
myterklep, soos ‘n chirurg bedrewe,

terwyl daar êrens in haar wese,
onsigbaar vir almal, sel met sel
saamsmelt en splits tot nuwe lewe.

Ina Rousseau  1926 - 2005
Versamelde gedigte 1954-1984