Boek Piet Paaltjens                                   Piet Paaltjens  Dichter-dominee  1835 - 1894                             


Beginpagina

Jeugdjaren in Leeuwarden

Studententijd in Leiden

Predikant in Foudgum

Predikant in Den Helder

Predikant in Schiedam

Over Piet Paaltjens

Culinaire citaten

Gedichten over eten en drinken

Culinaire bloemlezing

Culinaire links

Culinaire reizen, kooklessen

Contact  

 Ode aan die ui
 
 Ui

 glansende fles,
 uieblaar op uieblaar
 is jou skoonheid gevorm,
 kristallae het jou uitgebou
 en in die geheime donker aarde
 het jou buik rond geword van dou.
 Onder die aarde
 het die wonder gebeur
 en toe jou lomp
 groen stengel verskyn het,
 en jou blare
 gebore is soos swaarde in die groentetuin,
 het die aarde sy kragte saamgetrek
 om jou naakte deursigtigheid te wys,
 en soos die verre see
 Aphrodite se borste lig
 en ‘n magnolia naboots,
 het die aarde
 jou gemaak,
 ui,
 helder soos ‘n planeet,
 en bestem
 om te skyn,
 konstante konstellasie,
 ronde roos van water,
 op
 die tafel
 van arm mense.
 
 Gulhartig
 gee jy
 jou bol van varsheid op
 in vurige voldoening
 aan die kookpot,
 en die kristalring
 word in die vlammende hitte
 vervorm tot ‘n gekrulde goue veer.
 
 Weer onthou ek hoe vrugbaar
 jou invloed is op die liefde van die slaai
 en dit lyk of die lug bydra
 om jou die fyn vorm van hael te gee
 en jou gekapte helderheid te vier
 op die rondheid van ‘n tamatie.
 
 Maar binne bereik
 van die mense se hande,
 besprinkel met olie,
 bepoeier
 met ‘n knippie sout
 stil jy die honger
 van arbeiders op die harde pad.
 Ster van die armes,
 towertante
 toegedraai
 in delikate
 papier, staan jy op uit die grond,
 ewig, ongeskonde, suiwer
 soos die saad van ‘n ster,
 en terwyl jy opgekap word,
 sal die kombuismes
 ‘n enkele traan voortbring
 sonder pyn.

 Jy laat ons huil maar maak nie seer nie.
 Ek het alles wat bestaan gevier, ui,
 maar vir my
 is jy pragtiger as ‘n voël
 met glansende vere,
 in my oë is jy
 ‘n hemelse bol, ‘n platina beker,
 ‘n onbeweeglike dans
 van ‘n sneeubedekte anemoon
 
 en die geur van die aarde
 leef in jou kristal-wese.
 
 Pablo Neruda 1904 - 1973
 Uit Spaans vertaal deur Philippus Arnoldus de Waal Venter 1942